Friday, 23 May 2014 16:38
Smile 90.4FM se Cato Bekker sluit aan by JAM! Op kykNET TV Written by 
Smile 90.4FM se Cato Bekker sluit aan by JAM! Op kykNET TV Smile 90.4FM

Cato Bekker jongste toevoeging tot die JAM! aanbiederspan

Die Smile 90.4FM aanbieder en vervaardiger Cato Bekker, en sanger Brandon October is gekies as mede-aanbieders van die splinternuwe Afrikaanse musiekprogram JAM! saam met Andre Venter, lid van die baie suksesvolle groep Romanz. JAM! Jou Afrikaanse Musiekprogram word deur Blixem Productions in samewerking met kykNET vervaardig.

Terwyl dit nie die eerste keer is dat Bekker iets op televisie aanbied nie, verduidelik sy dat sy haarself nog altyd as beide ’n radio- en TV-persoon beskou het. “Toe ek nog veel jonger was, wou ek ook ’n TV-kletsprogram soos Oprah hê. Gedurende my tienerjare wou ek weer ’n radio-kletsprogram soos Howard Stern hê, en ek dink ek het in die tussentyd iewers in die middel beland.”

Die grootste name in Afrikaanse musiek nooi kykers om elke Sondagaand saam met hulle op kykNET Musiek te JAM! Die woord “jam” beteken om ’n blaaskans te neem of te ontspan, terwyl jamming onder musici ook dui op twee of meer musikante wat vir die pret musiek maak. “JAM! is ’n unieke televisieprogram wat beslis waarde tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekbedryf voeg,” sê Bekker.

Kykers word gevra om hul gunsteling-instrument saam te bring, hetsy ’n denkbeeldige kitaar, die trommel van hul vingers of die onwillekeurige stamp van hul voet, en lekker agteroor te sit en te ontspan terwyl hulle op maat van die musiek herlaai. Bekker voeg by: “Ek dink JAM! het ’n lekker plek geskep om uit te hang, beide met gevestigde sowel as opkomende musikante. Dis intiem, persoonlik en hope pret!” Die program beloof eksklusiewe akoestiese optredes, die bekendstelling van nuwelinge in die bedryf, en sal die jongste CD-vrystellings, musiekvideo’s en ’n dagboek propvol belangrike konsertdatums insluit.

Bekker is mal oor JAM! en verheug om deel van die span te wees. “Ek is regtig opgewonde en sien daarna uit om ’n bietjie van my persoonlikheid aan hul baie suksesvolle program te verleen,” sê Bekker. Terwyl daar baie aspekte van die program is waarvan Bekker hou, beskou sy die ontmoeting van Suid-Afrika se talentvolste kunstenaars as een van die hoogtepunte. “Ek word in elke program deur een van die land se top musikante bekoor. Absoluut hemels!”

Skakel weeksdae in op Cato Bekker en Maurice Carpede op Smile 90.4FM tussen 15:00 en 18:00, of kuier saam met haar op kykNET se JAM! vanaf 4 Mei 2014, elke Sondag van 21:00 tot 23:00 op kykNET Musiek (DStv-kanaal 146)

- PURPLE PINE PR

 

 

Leave a comment

Make sure you enter the (*) required information where indicated. *